′n Gesprek met Sandra Prinsloo

Wie of wat het jou geïnspireer om ’n loopbaan in die kunste te volg?

Ek was vandat ek jonk was by ballet betrokke. My ma het my ballet toe gestuur om my postuur te verbeter, en toe begin ek hartstogtelik daarvan hou. Ek was mal oor dans, en al was ek ’n baie skaam kind, het ek besef dat ek nogal goed daarmee was om stories deur dans uit te beeld, al was ek nie tegnies briljant nie. Ek dink dit was my eerste tree in dié beroepsrigting, want ek het my nooit regtig as aktrise gesien nie. Ek het op universiteit drama gestudeer bloot omdat dit effe meer interessant geklink het as ’n gewone BA. Maar toe begin ek by die Breytenbach-Teater in Pretoria werk, en die magiese aantrekking van die teater was net dáár. Ek het egter nie gedink ek sou aktrise word nie, en ek het die eerste kontrak wat TRUK my aangebied het, van die hand gewys, want ek het gedink: “O, nee, ek dink nie ek wil aktrise wees nie”, maar die gogga moes seker op ’n manier gebyt het … Toe sê ek maar ja, ek sal twee toneelstukke doen. En toe begin ek saam met Marius [Weyers] werk en ons was soortvan dadelik ’n verhoogpaartjie. Daar was vandat ons begin saamwerk het, ’n soort vonk, en Marius het my soveel geleer. Ons het heelwat ekstra werk gedoen. Ons sou snags ons tonele repeteer wanneer almal al huis toe gegaan het. Ek sou sê hy was vir my ’n groot inspirasie.

Ek vind dit só interessant dat jy eintlik maar per ongeluk in die bedryf beland het, en nou het jy al —volgens wat ek gelees het— in honderd stukke gespeel.

O, dis nou heelwat meer.

Sandra_Sarafina183 (1)
Foto: Chris de Beer

Jy het eers kontrakte van die hand gewys, en nou is jy een van die land se bekendste verhoog-en-filmaktrises.

Dis vreemd hoe dit uitgewerk het. Ek het ook die geluksgodin aan my kant gehad. Ek het nog altyd goeie mentors gehad. Francois Swart was op daardie stadium die artistieke regisseur en hy was ’n wonderlike mentor om te hê. Dit was ook iets wat my beïnvloed het en aangespoor het en my oor die werk opgewonde gemaak het: Ons het op daardie stadium baie opwindende en interessante werk gedoen. Ons het baie, baie hard gewerk. Ek moes op ’n jong leeftyd al groot rolle speel, en ek is seker soms in rolle ingedruk waarvoor ek nie heeltemal gereed was nie, maar daar is niks beter as jy as jong aktrise wil groei nie. Dit was wonderlik. Ons het ook verskillende genres gespeel: saans ’n komedie, en deur die dag repeteer ons ’n vreeslike tragedie. Die omvang was groot. Ek dink al daardie dinge het bygedra tot die besef dat die teater ’n familie is, en dis nooit maklik om familie te groet nie. 

So van familie gepraat, jy en John Kani speel weer saam, nou in So Ry Miss Daisy. Wat aan hierdie stuk het jou na die produksie gelok?

’n Paar dinge. Beslis die geleentheid om weer saam met John te werk. Ons het al daaroor gepraat dat ons weer iets wou saam doen, maar ons kon dit nooit regkry nie. Nes ek en Marius gepraat het oor weer saamwerk, en ons het [voor 2016 se Wie is Bang vir Virginia Woolf?] vir omtrent 28 jaar niks saam gedoen nie, dalk langer. Ek was nog altyd mal daaroor om saam met Christiaan Olwagen te werk. Hy is ’n wonderlike regisseur. En Saartjie [Botha], wat ’n fantastiese vertaler is —ek het geweet die teks sou uitstekend wees. Hoe kon ek dit nié doen nie? Ek moes dit net doen.

Ek het met my navorsing vir hierdie gesprek agtergekom dat ongeveer elke onderhoud jou eerste verhoogverskyning met John Kani in Miss Julie noem, en uitbrei oor hoe jy saans na jou kar vergesel moes word omdat dinge toe so anders was …

Met bomdreigemente en goed.

Ek het julle ná die eerste aand hier gesien, en daar was só ’n warm ontvangs vir julle. Kan jy dalk praat oor daardie verskuiwing, en hoe dit voel om te wees waar jy nou is?

Dis wonderlik. Dis eintlik vreemd, want dis amper ’n verligting nou dat al daardie druk weg is: die sosiale druk, die politiese druk. Dis so lekker. Dis so lekker dat jy net jou werk kan doen en nie by enige van daardie dinge betrokke hoef te raak nie. Ek dink ook dat ek en John op ons ouderdom baie meer ontspanne is oor alles, en ons geniet dit net vreeslik om saam ’n storie te vertel. Dit is die groot ding van die teater: Dit gaan oor stories vertel. ’n Lieflike storie met heelwat nuanse en sagtheid. Dit is verblydend om te weet dat ons nie weer daardie soort druk hoef te ondervind nie; dat ons nie meer by daardie gevegte hoef betrokke te wees nie. 

Sandra_Sarafina064
Foto: Chris de Beer

Ek het Wie’s bang vir Virginia Woolf? en nou ook So Ry Miss Daisy gesien. Ek hou van hoe hierdie gewilde tekste in Afrikaans vertaal word. Hoe ondervind jy dit?

Dis wonderlik, en dis veral lekker om met ’n regisseur soos Christiaan Olwagen te werk wat die werk ’n bietjie moderniseer, wat volgens my nodig is. Hy is nie aan die teks verknog nie, hoewel ons tog daarby hou. Deesdae moet ’n mens maar sny; heelwat van die stukke is net te lank. Ek vermoed hulle is ook soms ’n bietjie tydgebonde. Christiaan het die moed —en dit is ’n baie dapper ding om te doen— om ’n stuk te gryp en dit ’n bietjie vir die hedendaagse gehoor aan te pas. Dis nie dat hy nie die teks respekteer nie. Hy rig nie skade aan nie, en dis vir my baie opwindend om met ’n jong regisseur soos hy te werk.

Dis dalk nou ’n onregverdige vraag, maar het jy ’n gunsteling uit al die produksies waarby jy al betrokke was?

Daar is natuurlik altyd gunstelinge, maar daar is baie. Ek moet sê dat ek mal was oor Die SeemeeuEk het dit baie geniet om Virginia Woolf te doen maar dit was emosioneel en fisiek rof. Dis ’n moeilike rol. Ek is mal oor die stuk wat ons nou doen, en ook oor albei my eenvrouvertonings. Dit was baie lekker om Oskar en die Pienk Tannie en Die Naaimasjien te doen. Ek onthou dat ek en Marius jare gelede The Taming of The Shrew in Afrikaans gedoen het. Dít was nou ’n produksie wat ons laat lag het. Ek geniet altyd wat ek doen, maar daar is sommige stukke wat my nader aan die hart lê. [Miss Daisy] is so ’n vreugde om te doen. Dis so ’n vreugde; ek kan dit nie eers oorvertel nie. Dit is wonderlik om die voorreg te hê om dit te kan doen. 

Dit verskaf ook aan die gehoor baie vreugde. 

Dankie.

Al die emosies wat ek beleef het, was vir my nogal ’n verrassing, want ’n mens dink jy ken die storie, maar dan sien jy hoe dit op hierdie manier gedoen word …

Daar’s subtiliteite en verskuiwings. Ek dink die feit dat dit in Suid-Afrika afspeel, bring dit heelwat nader aan ons eie hedendaagse leefruimte. Dit is onmiddellik herkenbaar, maar as ons dit nou in Amerika laat afspeel het …

Sandra_Sarafina156
Foto: Chris de Beer

… dan word dit effe verwyderd. Is daar enigiets op jou professionele emmerskoplysie?

Ek is lief vir my werk en ek is lief daarvoor om te werk, en ek sou graag net aanhou werk. Ek begin môre aan ’n nuwe eenvrouvertoning repeteer —Moedertaal— wat deur ’n baie jong Afrikaanse skrywer/regisseur geskryf is. Dit is ’n pragtige teks. Die talent wat ’n mens by die jeug sien, is net verbysterend. Daar is ’n golf briljantheid wat oor ons spoel. Dit is inspirerend, en ek hoop dat ek daarvan deel sal wees.

Ek dink heelwat jong teaterpraktisyns gaan daardie sin lees en net voor hul rekenaarskerms flou word wanneer hulle besef dat iemand van jou statuur soveel hoop en waardering vir die nuwe generasie het.

Akteurs is onseker oor hulself, altyd. Jong akteurs kom soms na my toe en vra: “Voel jy soms dat jy nie goed genoeg is nie en dat jy dit nie gaan maak nie?” Dan sê ek: “Ja, maar dit is nie belangrik nie, want jy moet die fokus van jouself na die werk verskuif”. Dan is jy nie meer so bang nie, want die vraag is nie meer of jy goed genoeg is nie; die vraag word: “Wat vra die werk van my?”. Doen die werk eerlik en behoorlik. Dit is al wat jy kan doen. Gaan uit en deel dit met mense. Dit is waarvoor ons hier is: om te deel.

Was daar al ooit ’n oomblik in jou loopbaan waar jy gedink het dat toneelspel dalk nie meer vir jou is nie?

Absoluut. Dit het drie keer gebeur dat ek regtig seker was dat ek nie meer aktrise moes wees nie. ’n Mens beleef sulke tye, en dit het heelwat met persoonlike groei te doen. Jy kan nie net die heeltyd groei nie. Jy groei bietjies-bietjies. Dit gebeur só dat jy ’n rukkie lank ontwikkel en dan stop. Dit is ook hoe ons as mense ontwikkel. Dit is dieselfde met akteurs; wanneer jy in daardie tussenstaat is dat jy voel jy gaan nêrens nie; niks gebeur nie, en jy word ’n bietjie depressief. Deesdae geniet ek net die werk. Ek bekommer my nie meer oor die stil tye nie.

Sandra_Sarafina095
Foto: Chris de Beer

Hoe voel jy oor die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse teater?

Ek moet sê ek dink dat dit goed gaan met die teaterwêreld. Daar word wonderlike produksies op die planke gebring —werk wat op die internasionale verhoog hoog geag sou word. Ek voel egter dat ons nog ’n bietjie afgesonder is wanneer dit daarby kom om ons werk met die res van die wêreld te deel. Dit sou interessant wees as ons … Ek praat nou nie noodwendig van Amerika of Engeland nie; om die waarheid te sê praat ek glad nie van daardie lande nie, maar eintlik meer van die Oos-Europese lande —’n ander invloed. Toe ek by die Edinburgh-Fees was met my eenvroustuk het ek al die vertonings op die hooffees bygewoon. Dit was wonderlik om al die verskillende benaderings te sien. Jy sien hoe die Japannese Macbeth doen; jy sien hoe die Pole Macbeth doen. Dit is fassinerend om die verskillende invloede te sien. Ons is ’n bietjie geïsoleer, maar ek dink beslis dat ons teaterwêreld gesond is. Ons bekommer ons steeds oor gehore en gehoorontwikkeling, maar ek dink nie dis uniek aan Suid-Afrika nie. Dit is hier dalk effens moeiliker, maar dis nie ’n unieke situasie nie.

Kan jy ’n paar Suid-Afrikaanse vroue in die kunste noem wat jou inspireer?

Daar is baie. Marlene le Roux, byvoorbeeld, wat die Kunstekaap se uitvoerende hoof is. Ek dink sy is ’n inspirerende, energieke, dapper vrou. Daar is regtig baie. Daar is iemand soos Rhoda Kadalie, wat ek dink vreesloos is. Sy is baie interessant, maar ek hou my weg van die persoonlike gebied. Daar is aktrises wat my inspireer; daar is kunstenaars wat my inspireer. Die visuele kunste inspireer my baie. Ek is baie lief daarvoor en woon gereeld uitstallings by. Ek het onlangs een op Stellenbosch bygewoon, genaamd “Bosch in Africa“, waar moderne kunstenaars Hieronymus Bosch se werk geïnterpreteer het en ontdek het waarmee hy geworstel het. Dit was só inspirerend, en ek wonder altyd wáár mense hierdie idees vandaan kry. Daar is soveel sterk vroue. Helen Zille is ’n sterk vrou. Patricia de Lille ook. So ook Lara Foot en Lara Bye. Ek is bang om almal te probeer opnoem, want ek sal waarskynlik die belangrikstes vergeet. Daar is net baie mense saam met wie ek werk wat ek bewonder.


Sandra is tans in So Ry Miss Daisy te sien, wat tot 31 Maart by die Fugard-Teater op die planke is. Kliek hier om kaartjies te bespreek.

Sandra se volgende projek, Moedertaal, is van 8 tot 12 April by die KKNK te sien. Kliek hier vir kaartjies en meer inligting.

Afrikaans deur Maria Vos en Retha Vos.

’n Spesiale dankie aan Sandra Prinsloo, Lamees Albertus, Ilza Roggeband, Hannah BakerMaria Vos en Chris de Beer.

Alle foto’s is op 16 Maart 2017 deur Chris de Beer in die Fugard-Teater geneem.

Sarafina Magazine en Chris de Beer behou die kopiereg op alle foto’s. Vir toestemming en navrae, kontak ons asseblief.

Sandra_Sarafina166
Foto: Chris de Beer
Advertisement