′n Gesprek met Tinarie van Wyk Loots

Wie of wat het jou geïnspireer om ’n loopbaan in die kunste na te streef?

Dis iets wat net soortvan —ek wil sê “organies”, maar dit is so ’n cliché— gebeur het. Ons het in die middel van my Graad 1-jaar verhuis, en my ma sê ek het ’n bietjie gesukkel om in my nuwe skool aan te pas. Sy het my toe buitemuurse drama-klassies laat neem om my te help gemaklik voel. Ek het onmiddellik daarvan gehou, en later, toe ek die geleentheid kry om in skooltoneelstukke te speel, het ek alles gedoen wat ek kon. Ek onthou ek het een jaar 22 items vir die Grahamstad-Eisteddfod ingeskryf omdat ek álles wou doen. Ek het by ’n buitemuurse dramagroep in Port Elizabeth aangesluit, en dit was so verfrissend en inspirerend en opwindend. Een van die wonderlike dinge van in Port Elizabeth grootword, is dat daar geen professionele teaterkringloop is om teen mee te ding nie. Wat die amateur-dramavereniging ook aanbied, ís die professionele teater. Ons het die geleentheid gehad om in die operahuis en die Veremarksaal op te tree. Niks kan naby al hierdie ervarings in verskillende teaters kom nie. Ek dink dis waar jy die meeste leer. Toneelspeel was iets wat ek net móés doen. Ek voel soms … Soos aan die begin van hierdie jaar toe dinge vreeslik besig was en ek uitgeput was en gevoel het asof ek uitbrand of dalk te veel doen —maar dan stap ek op ’n verhoog of in ’n repetisieruimte in en ek voel so versterk en so lewendig wanneer ek daar is dat dit voel asof dit my regtig voed.

T3
Foto: Candice van Litsenborgh

 

Dit verbaas my glad nie dat jy 22 items vir ’n Eisteddfod ingeskryf het nie. Toe ek iemand vertel dat ek met jou gaan gesels, het sy gesê ek moet jou vra hoe dit voel om sewe stukke op een slag te doen. Dit lyk asof jy die heeltyd ’n miljoen dinge aan die gang het.

Ek probeer regtig baie hard ’n balans handhaaf, al werk dit op die oomblik duidelik nie. Dis ’n kombinasie van verskeie dinge. Daar is die praktiese kant van bekommerd wees dat jy nooit weer gaan werk nie en nie weet waar jou volgende salaris vandaan gaan kom nie. Dis ook die idee dat jy só lank só hard werk om geleenthede te kry, en wanneer daardie geleenthede dan uiteindelik opdaag, kan  jy nie nee sê nie. Sover dit sewe stukke op een slag betref, beveel ek dit beslis nie aan nie, want jy wil regtig steeds jou bes doen in diens van die storie, wat die belangrikste is. En in diens van die gehoor, want hulle kom vir die storie. As jy moeg is en nie aandag gee nie, kan jy dit nie noodwendig doen nie. Ek vind egter —ek noem dit “hummingbird mode”, want ek het een keer ’n episode van Futurama geskyk waar Fry 100 koppies koffie drink en hom dan in ’n tipe “hummingbird mode” bevind waar alles in stadige aksie beweeg terwyl hy teen ’n normale spoed beweeg. Dit voel asof jy hierdie “hummingbird mode” betree waar jou sintuie skerper is en jy omtrent net kan regop bly deur teen so ’n tempo te werk omdat jy nie eintlik ’n keuse het nie, so dan verbind jy jou heeltemal daartoe. Dis amper asof dit jou voed. Dit leer jou om in die oomblik dáár te wees, en ek dink dít is vir enige speler baie belangrik. Die teater (en hoe dit mense raak) maak my baie opgewonde. Ek voel dat stories mense genees. Stories verskaf aan jou ’n wonderlike geleentheid om jou in iemand anders se situasie te verplaas. Ek dink stories herinner jou daaraan dat in alles iets mensliks is. Dit gee jou ’n sekere perspektief wat jy nie andersins sou gehad het nie. Teater gee jou die geleentheid om dit op so ’n intieme manier en met direkte kommunikasie te doen, want daar is ’n aktiewe uitruil tussen jou en die gehoor wat nie deur ’n pause-knoppie onderbreek kan word nie.

Dis wonderlik dat jy so hartstogtelik daaroor voel en dat dit jou so opgewonde maak, want jy het so ’n lang CV dat ek amper bekommerd was dat die werk vir jou al ’n bietjie klinies geword het. 

Ek dink ek is baie obsessief oor die werk wat ek doen. Ek het in die res van my lewe geen dissipline nie, maar wanneer dit by my werk kom, probeer ek regtig dissipline toepas, want ek dink dit is belangrik as jy doen wat ons doen. Ek hou só van wat ek doen, en ek is baie bewus van hoe dankbaar ek moet wees, want ek het die geleentheid om iets te doen waarvoor ek lief is en waaroor ek hartstogtelik voel; iets waarvan ek ’n loopbaan kon maak.

T2
Foto: Candice van Litsenborgh

 

Wat omtrent hierdie produksie het jou aangelok?

Dit is altyd wonderlik wanneer iemand jou nader vir ’n projek en jy hoef nie deur die hele oudisieproses te gaan nie, want dan voel jy dat hulle bereid is om in jou te belê omdat hulle iets in jou sien wat ’n positiewe bydrae tot hul idees sal maak. Dit is waarlik ’n bekorende, betowerende, uitdagende, pragtige teks, nie net in terme van die storie nie —want dié is eintlik eenvoudig— maar in terme van hoe dit alles aan jou openbaar word. Dít is regtig uniek en innemend en uitdagend. My karakter is eienaardig en eksentriek en effe vreemd, en dit is verfrissend om só ’n karakter te speel wat lyk asof sy eerlik is en deur die lewe geaffekteer word. Die teks self is baie mooi vertaal. Dit speel so natuurlik. Dit is maklik om die waarheid daarin te vind. Dit is ook baie opwindend om iets uitdagends te doen, want jy sien eintlik hoe hierdie karakters se verhouding ontwikkel, maar jy sien hoe hulle dit in ‘n klomp verskillende heelalle ondervind. Elke besluit wat hulle neem, of dit nou impulsief of deurdag is, se gevolge verander elke keer. As gehoorllid sien jy die verskillende weergawes van hoe die toneel kón gebeur het. As akteur het jy die geleentheid om dieselfde toneel op vyf verskillende maniere te speel, wat so lekker is. Dit is wonderlik om dit met iemand so talentvol en bedrewe soos Paul [du Toit] te doen, want ons voel veilig met mekaar op die verhoog. Ek dink die stuk leen hom tot ’n sekere eerlikheid. Daar is geen rekwisiete nie, geen stel. Dit is letterlik net ons twee en 96 gloeilampe op die verhoog. Dis nogal magies. En dan werk ons met so ’n lieflike, eerlike, vrygewige, betowerende regisseur wat ons toelaat om vry te speel. Al daardie dinge dra by tot die wonderlike ondervinding en maak dit ’n geleentheid waarvoor ek glad nie sou kon nee sê nie.

Hemelruim.jpg
Foto: Daniel Rutland Manners

 

Aangesien die toneelstuk nie ’n tradisionele struktuur het nie, moes jou proses hoegenaamd verander?

Ek dink jou proses verander met elke stuk wat jy aanpak, omdat elke stuk anders is. Elke proses is anders. Ek vind dat ek die woorde op ’n ander manier leer. Ek benader die stuk op ’n ander manier. Al my tekste lyk anders. Met hierdie een was dit baie moeilik om teks-in-die-hand te repeteer; ons het ons bes gedoen om so gou moontlik die woorde te leer. Die struktuur is anders, want jy sien hierdie klein storie-eenhede, en tussen-in is daar een toneel waarvan jy net stukkies kry. Jy kry ’n leidraad en wanneer die volgende toneel of mise-en-scène voltooi is, kry jy nog ’n stukkie wat jou nog ’n bietjie inligting gee. Jy moet die legkaart begin bou, en dan ondervind jy ’n stadige gewaarwording van wat aangaan. Ons benader die tonele binne hul eie klein metaforiese gebied, want elke toneel vind binne sy eie klein metaforiese gebied plaas.

T8
Foto: Candice van Litsenborgh

Dit ontstel my dat sensitiewe produksiefoto’s sonder jou toestemming by die KKNK gepubliseer is. Ek het gewonder of jy enigiets hieroor wou sê.

 

Ek wil dit natuurlik nie moeiliker maak vir die KKNK en die betrokkenes nie. Ek wil dit nie in ’n sensasionele debat verander nie, want dit is presies wat ons probeer vermy. Ek dink dis moeilik vir uitvoerende kunstenaars om as ’t ware kopiereg op hulself uit te neem, of op hoe hulle gesien word. In ’n film behoort al die tonele aan die film, en is dit daarom makliker om ’n mate van beheer uit te oefen. Ons praat nie hier van sensuur nie; ons het naaktheid op die verhoog bespreek, want daar was op hierdie jaar se Fees heelwat daarvan, en ek glo ons moet dit ontluister. Ek dink as jy ’n debat daaroor kan voer, moet dit dalk nie daar wees nie, maar as die naaktheid ’n onlosmaaklike deel van die storie word wat daar moet wees omdat dit iets omtrent die karakter laat blyk, dan met liefde. Ek is ’n voorstander van die free-the-nipple-idee. Ek dink dis onregverdig dat ons, sover dit naaktheid betref, dubbele standaarde vir mans en vroue het, maar ons moet ook in ag neem dat die stigma steeds in ons samelewing bestaan dat ’n naakfoto in die media noodwendig ’n geseksualiseerde foto is, veral as dit buite konteks beskou word. Daarom voel ek dat dit belangrik is om die ruimte waar dié foto’s gedeel word, fyn te definieer. Ek dink ons moet ons kunstenaars probeer beskerm, want wanneer akteurs naak op die verhoog verskyn, is ons in die teater se “veilige ruimte”. Mense koop ’n kaartjie of word uitgenooi na daardie ruimte om dit binne die konteks van die storie, waar dit sin maak, te beleef. Die oomblik wat jy die foto daar uithaal en dit in die koerant plaas, is dit nie meer ’n karakter op die verhoog nie; dit is dan ’n individu. Ek het nie noodwendig ’n probleem daarmee om kaal in die media te verskyn nie —ek was al vantevore naak in die media, maar dit was met my toestemming en ek was in beheer en ek het verstaan wat die doel daarvan was. Dit voel asof ons nou naaktheid vir sensasionalistiese doeleindes gebruik. Ek staan dit nie voor nie, want dan versprei jy dit met ’n ander belang in gedagte. Dit gaan nie oor sensuur nie; dit gaan oor die etiek daarvan, en dit gaan daaroor dat ons ons kunstenaars beskerm sodat hulle nie in die media uitgebuit word nie. Ek dink nie naaktheid in ’n koerant is nodig om ’n toneelstuk —of ’n koerant— te verkoop nie. Ek dink dit ondermyn wat ons probeer sê, en wat ons probeer sê is dat dit binne die regte konteks moet bestaan. My beeld behoort baie spesifiek aan die storie. Ek dink die saak sou heeltemal anders gelyk het as ons toestemming gevra is. Dit is gekompliseerd en kompleks en ek verstaan dat daar meer aspekte betrokke kan wees as waarvan ek bewus is, maar ek dink dit is belangrik dat ons dit bespreek, want ek is nie die eerste kunstenaar wat al só in die media verskyn het en daardeur blootgestel voel nie. Dit is egter moeilik om dit binne die teaterwêreld te doen, want dit blyk dat ons hoegenaamd geen regte het nie. As jy daarteen opstaan, word jy gekritiseer. As jy niks sê nie, word jy misbruik of uitgebuit. Ek dink hierdie dinge moet aangespreek word; selfs al word dit nie opgelos nie, moet daar ten minste ’n gesprek of openbare debat daaroor gevoer word waar mense hul menings kan lug. Dan kan ons dit standardiseer en sê: “Dít is wat volgens ons aanvaarbaar is, en dít is wat vir ons na uitbuiting voel; dít is spraakvryheid en persvryheid, en dít is nou weer nie aanvaarbaar nie”. Dit was nie net ek nie. Ek en ’n man is albei in die stort gewys, maar ek voel dit is onregverdig teenoor ons albei. Ek dink dis disrespekvol teenoor die kunstenaar. Ek het geen probleem met die artikel nie. Ek het gedink die artikel wat by die foto verskyn het, was in die kol. Ek dink dis ’n belangrike bespreking wat ons moet hê, maar die bewoording op die lamppaal-advertensie —“Kyk wie’s kaal in die stort”—, ondersteun nie die argument nie, en ek dink dis teenproduktief. 

T5
Foto: Candice van Litsenborgh

 

Baie dankie dat jy dit met ons deel. Kan jy ’n paar Suid-Afrikaanse vroue in die kunste noem wat jou inspireer?

Min of meer ál die vroue wat ek in die kunste-wêreld ontmoet, inspireer my. Ek is bevoorregd om soveel wonderlike mense te ontmoet; jonges en oues. Ek het al die voorreg gehad om saam met Anna-Mart van der Merwe en Sandra Prinsloo te werk. Ek het al die voorreg gehad om saam met Christelle Dreyer te werk, wat my inspireer met wat sy doen. Chuma Sopotela, wat ’n ongelooflik aktiewe en wonderlike akteur is. Regisseurs wat die teaterwêreld anders laat lyk, veral ’n vrou soos Lara Foot. Die lys is oneindig lank. En dan die verbysterende akteurs waarmee ek werk. Akteurs en aktrises wat net beeldskone mense is, soos Cintaine Schutte, Antoinette Kellerman,Anoecha Krüger. Al die jong vroue wat nie bang is om hul monde oop te maak nie, wat sterk en gaaf is. Ek dink vriendelikheid en empatie en liefde maak dit soveel makliker vir almal om binne ’n bepaalde kreatiewe ruimte te bestaan. Die lys hou nie op nie. Jennifer Steyn, Amy Jephta. Mense wat aktief besig is om die teater- en vermaakwêreld te verander. Ek dink dis ’n ruimte vol dapperheid waar ons die geleentheid het om as gelykes gesien te word, en waar ons as gelykes kan baklei en aktief kan probeer om veranderinge teweeg te bring. Daar is ’n wonderlike sin aan die einde van Marat/Sade: “Ons praat sonder guns of vrees en dít wat ons nie kan sê nie, fluister ons in jou oor”. Dit is ’n pragtige manier om te vervat wat dit is wat ’n akteur doen en hoe belangrik ons werk vir die samelewing is, en hoe gelukkig ek is om deel te wees van ’n leërskare vroue wat in die bedryf werk en die wêreld deur die teater probeer verander.  


Hemelruim is tot 13 Mei 2017 by die Fugard-teater te sien. Kliek hier om kaartjies te bespreek. 

’n Spesiale dankie aan Christine Skinner, Maria Vos, Retha VosCandice van Litsenborgh en Tinarie van Wyk Loots. 

Afrikaans deur Maria Vos

Alle foto’s is op 21 April 2017 deur Candice van Litsenborgh geneem. 

Sarafina Magazine en Candice van Litsenborgh behou die kopiereg op alle foto’s. Kontak ons met enige navrae in dié verband. 

Advertisements