′n Gesprek met Mari Borstlap

Wie of wat het jou geïnspireer om ’n loopbaan in die kunste te volg?

Ek dink ek het ’n diep verbintenis aan stories. Ek dink dit is deel van my hele lewensfilosofie: Ek glo ons is almal siele wat ’n menslike ondervinding beleef, en hierdie slag is ek besorgd oor wat dit is om mens te wees en oor hoe ons alles waarmee ons as mense te doen kry, hanteer. Ek dink die wêreld en die mense wat ek ontmoet, nie net my vriende en familie nie, maar almal, selfs in hierdie oomblik, bied aan my eindelose inspirasie. Dis die eerste ding waaraan ek kan dink, maar natuurlik is ek al op diepgaande wyse deur baie ander kunstenaars beïnvloed. Kunstenaars is, volgens my, baie dapper om [so ’n loopbaan] na te streef. Jy moet regtig dapper wees om jou brood uit die kunste te wil verdien, want dit is moeilik. Dis nie net moeilik om geld te verdien nie; ek dink dis moeilik omdat jy as kunstenaar regtig eerlik moet wees, en soms is dit bitter swaar om daartoe in te willig. Ek is tot ’n groot mate deur Marthinus Basson geïnspireer en beïnvloed. Hy was ook my mentor toe ek op Stellenbosch gestudeer het. Hy fokus op die detail. Hy is werklik ’n kunstenaar. Hy is nie bloot regisseur nie; hy was ook ’n uitstekende akteur toe hy jonger was. Jaco Bouwer is ook een van my groot helde.

Sarafina_Mari_Winterboom073
foto: Chris de Beer

Ek is bly dat jy die Universiteit Stellenbosch noem, want dit lyk my daar stroom aanhoudend grensverskuiwende teatermakers uit. Hoe was jou tyd daar?

Ek het ’n wonderlike tyd daar beleef. Ek het as deel van my voorgraadse studies met taal en kultuur te doen gekry, en ek is bly daaroor, want dit het my ’n breër perspektief gegee. Ek het ’n gap-jaar geneem voordat ek terug is om my honneurs- en meestersgrade in Regie onder Marthinus te doen. Dit was ’n baie vrugbare en inspirerende twee jaar van my lewe. Dis ’n ou instelling met ’n ryk  geskiedenis, en wonderlike mense het al deur daardie departement se deure gestap. Die geleentheid om saam met Marthinus te werk en twee jaar lank deur hom gelei te word, was ongelooflik. Ek skep al teater vandat ek nege jaar oud is, en ek het nie tot die arena toegetree met die idee om dit as akteur te maak nie; ek wou nog altyd regisseur wees. Ek het ook toneelgespeel, maar ek het geweet ek sou dit verkies om “aan die ander kant” te werk. [Marthinus] het dit raakgesien, en hy’t regtig geweet hoe om my te lei toe ek nog baie onervare was. Hy het my toegelaat om my talent te ontdek, maar hy het my ook ’n sekere mate van selfvertroue gegee sodat ek my instinkte kon vertrou. Ek is dankbaar vir daardie tyd op Stellenbosch, en soos elke student het ek wonderlike herinneringe daaraan.

Wat omtrent Winterboom het jou laat besluit om daarvan deel te word?

Ek het al op ’n ander produksie waarvan ek die regie behartig het, saam met Cintaine [Schutte], wat in dié stuk speel, gewerk. Ek dink ek en Cintaine begin ’n samewerkingsverhouding vind, en ons kom op kreatiewe en persoonlike vlak goed oor die weg. Ek dink ons het ’n mooi  vertrouensverhouding ontwikkel. Ek ken Jaco [Nothnagel] al jare lank, maar ons het nog nie vantevore saamgewerk nie. Toe Jaco my nader en sê hy en Cintaine gaan hiervan deel wees, en Wessel [Pretorius] gaan dit skryf, het ek gedink: “Oukei, dit klink baie interessant”. Dit was vir my lekker om die geleentheid te hê om iets meer tradisioneel te doen, want Winterboom is ’n volskaalse gesinsdrama. My werk fokus die afgelope paar jaar baie op plek-spesifieke stukke. Dis seker omdat ek ook ontwerper is, dat ek hou van die idee dat die omgewing ook gebruik kan word om ’n storie te vertel. Dit was deel van die uitdaging, want ek moes weer van voor af begin en werk aan die ontwerp en regie van ’n stuk wat vir ’n spesifieke geselskap geskryf is. Dit was seker vir my maklik om ja te sê omdat die regte mense reeds betrokke was. Dis ’n moeilike onderwerp om aan te spreek. Dit fassineer my wat ons as mense nodig het om geliefd te voel, om te voel asof ons ’n doel het, om te voel dat ons saak maak, en om ons tribe te vind. Dis soms wildvreemdes wat jou tuis laat voel. Dis waarom ek ja gesê het. Die onderwerp het my gelok, maar beslis ook die mense wat by die projek betrokke is.

Sarafina_Mari_Winterboom090.jpg
foto: Chris de Beer

Waarna sien jy uit voor die toneelstuk se volgende speelvak?

Dis altyd ’n groot seëning om ’n produksie te open en dan ’n paar maande te hê waarin dit kan groei en ontwikkel, veral as dit ’n nuwe stuk is. Ek sien daarna uit om te sien wat gaan gebeur. Dis amper soos om iets te laat marineer: om te sien hoe dit lyk wanneer ons weer daarna kyk, maar nie net in terme van hoe die akteurs “gegroei” het of hul proses aangepas het nie. Ek dink dit was belangrik vir my as regisseur om ook net ’n bietjie terug te staan en die besigheid te bekyk. ’n Mens vind dikwels met feeste dat jy jou werk die eerste keer op die openingsaand regtig as voltooide produk sien. Ons het nie die voorreg van voorskoue nie. Ek sien daarna uit om hier en daar aan dinge te torring. Ek dink ons het beslis ’n kans om dit wat ons geskep het, te verbeter.

Sarafina_Mari_Winterboom157.jpg
foto: Chris de Beer

As teatermaker, en spesifiek skrywer-regisseur, hoe dink jy behandel die huidige klimaat vroueskrywers en -regisseurs?

Omdat ek nog altyd gevoel het asof ek nie regtig ’n keuse gehad het nie en maar net gebore is om te doen wat ek doen, het ek nooit gedink dis miskien nie ’n goeie idee nie omdat ek ’n vrou is en die industrie geen ruimte vir vroue het nie. Ek het nooit daardie gesprek met myself gevoer nie. Dank Vader, anders het ek dalk besluit om niks aan te pak nie. Dit was al moeilik. ’n Mens moet aanhoudend uitdagings die hoof bied omdat jy ’n vrou is. Dis amper asof jy nie regtig kan verstaan wáárom nie. Daar is hierdie ding. Ek wil nie graag voel dat dit voor die hand liggend is en dat daar geen ruimte vir vroue in die bedryf is nie. Ek dink nie dis die geval nie. Dis asof vroulike kunsternaars rondom my skielik ’n soort selfvertroue en dapperheid ervaar. Mense is dapper genoeg om te sê: “Ek gaan dit doen, maak nie saak hoe moeilik of onmoontlik dit lyk nie”. Ek dink dis ’n wonderlike tyd. Ek het vier jaar lank aan die Universiteit Kaapstad klasgegee, waar ek baie nou met teatermakers gewerk het. Die vroulike teatermakers wat ek gedurende daardie tydperk ontmoet het, het my regtig hoop gegee. Ek het besef dat daar ’n groot toekoms vir vroulike teatermakers is. Ek dink dit gaan maar daaroor dat ’n mens moet vasbyt. Ek het heelwat met Lara Bye saamgewerk, en ek het vir haar soveel liefde en respek omdat sy dit al vir soveel jaar doen [en dit begin doen het] toe die idee van ’n vroueregisseur amper ongehoord was. Sy was die een wat vir my gesê het: “Jy moet net al die geraas ignoreer oor wat jy kan doen en nie kan doen nie, en dan moet jy net die werk doen. Die werk sal uiteindelik self praat.” Dit is dalk wat dit op die ou end is. Jy moet net ’n manier kry om die werk te doen.

Sarafina_Mari_Winterboom210.jpg
foto: Chris de Beer

Daar is onlangs in ’n paar uiteenlopende besprekings genoem dat die Afrikaanse teaterwêreld gemakliker blyk te wees met vroue in sleutelrolle. Wat dink jy van dié stelling?

Ons het ook wonderlike vroue in hoë posisies in die Afrikaanse kunswêreld. Twee van die groot kunstefeeste deur vroue bestuur word: die Woordfees deur Saartjie Botha en Aardklop deur Alexa Strachan. Miskien het dit ook iets te make met die feit dat wanneer daar ’n vrou heel bo is, jong, ontluikende, ongevestigde vroue ’n groter kans het om geleenthede te kry, omdat die vroue aan die stuur die waarde van daardie tipe balans verstaan. Daar is ook iets te sê oor die vroulike perspektief wat heeltemal anders is. Daar is beslis in die Afrikaanse industrie die gevoel dat vroue-teatermakers aanvaar word, maar nie net aan daardie kant van die besigheid nie; ook waar vervaardigers en die mense wat alles reël ter sprake is. 

Wat was tot dusver jou grootste uitdaging?

Omdat die bedryf so klein is, baklei almal basies oor dieselfde bietjie befondsing wat beskikbaar is. Geld is altyd ’n uitdaging, maar dit is nie vir my die gróótste uitdaging nie; die grootste uitdaging is om jouself toe te laat om te misluk. Dit voel asof ons ’n tydperk betree het waar almal van almal verwag om aanhoudend meesterwerke te produseer. As jy na inspirerende kunstenaars deur die eeue gaan kyk, besef jy dat nie alles wat hulle gemaak het regtig uitsonderlik was nie. Kyk byvoorbeeld na iemand soos Sam Shepard, wat ’n uitsonderlike dramaturg en kunstenaar was. Sy argief bestaan uit hóéveel toneelstukke, en drie of vier van hulle is maar bekend. Vir my is die uitdaging om myself die ruimte te gun om deurlopend aan my kuns te werk sonder om te voel dat ek nie goed genoeg is nie. Ek sou soms net iets wil maak, sonder dat dit die beste ding hoef te wees wat nog ooit bestaan het. Daar is soveel druk om elke keer ’n meesterstuk te skep. Ek dink dit belemmer die kreatiewe proses, want jy kan nie net jou werk doen nie. Dit is uiteindelik wat ek van dag tot dag doen, en ek moet dit op ’n manier laat werk. Dit is my lewenstaak; dis nie net ’n werk nie. Ek het al dinge gehoor, soos: “Dít beter briljant wees”. So iets is regtig erg vir enige skeppende mens om te hoor. Wat is “briljant”? Ek praat nie net van jou energie, of jou ingesteldheid teenoor of jou verbondenheid aan ’n projek nie. Ek praat maar net daarvan dat jy jouself dit moet gun om iets moois te maak.

Sarafina_Mari_Winterboom125
Foto: Chris de Beer

Ek dink hierdie gesprek gaan by baie mense aanklank vind, want vroue word dikwels nie toegelaat om so iets te verwoord nie.

Ja, en om daarby aan te sluit: Ek dink dit het weer te doen met jou vraag oor wat die algemene houding jeens vroue in die kunste is. Ek dink die druk is groot omdat daar so min van ons is wat  in dié bedryf werk. Ek dink die druk wat ons ondervind is soms belaglik intens, maar ek dink ons bemoei ons ook met meer as net die voortbring van nog ’n toneelstuk. Ek sou graag aan die einde van my lewe wou dink dat my werk op groter skaal tot iets bygedra het as net ’n lys van wat ek bereik het, hoeveel stukke se regie ek behartig het. Dat ’n mens se werk op ’n stadium invloedryk word en ander mense inspireer om iets na te jaag. Jy hoor dikwels die vraag: “Sou jy jong mense aanmoedig om eendag te doen wat jy doen?” Die antwoord is heel dikwels “Nee; moenie”, en ek haat dit. “Waarvan praat jy!?” wil ek vra. Is jy lief vir wat jy doen? Ja! Ja, dis moeilik. Ja, jy moet soms net aan die besigheidskant dink en iets doen waarvan jy nie noodwendig hou nie. Jy moet soms net doen wat ook oor jou pad kom, en dit gaan dalk nie jou magnum opus wees nie. Ek is ook nóú by Tienertoneel betrokke, wat ’n groot ding in die Afrikaanse gemeenskap is. Ek sien nie my betrokkenheid daar as minder belangrik nie. Ek probeer om alles wat ek het te stort in waarmee ek besig is, of dit nou iets kommersieels of ’n liefdesprojek is. Dit is vir my belangrik om dinge só te benader.

Sarafina_Mari_Winterboom156.jpg
foto: Chris de Beer

Is daar één ding waarop jy die trotsste is?

Vandag ek jonk is, glo ek al dat ek geroepe is om teatermaker te word, en ek maak al van die begin af ongelooflike werk sonder dat ek ’n plan B gehad het. Daardie wete dat ek daartoe in staat is om aanhoudend iets te maak, omdat ek so ’n diepe begeerte het om skeppend te wees. Ek het drie jaar gelede ’n stuk gedoen (waarop ek baie trots is) saam met drie matriekleerders. Dit was die donkerste tyd van my lewe. Dit was die laaste paar maande van my ma se lewe. Sy het kanker gehad, en ek het terug huis toe getrek om na haar te kyk terwyl ek aan hierdie stuk gewerk het. Ek het dit geskryf ook. Gedurende die dag tydens  repetisies kon ek al my energie op die werk fokus, en ons het soveel pret gehad, maar dit was ook uitmergelend. Die drie akteurs was absoluut wonderlik om mee te werk, want hulle was jonk en vreesloos en het nie vrae gevra nie —hulle het net ingespring. Maar dan sou ek saans huis toe gaan en na my sterwende ma omsien. Daardie produk is iets wat ek nie nou sou weet hoe om weer te maak nie, want dit is ’n voorbeeld van hoe kreatiwiteit en toewyding aan jou werk en die gebruik van jou eie lewensomstandighede alles kan transformeer wanneer jy dit gebruik om iets te maak waarin jy glo. Ek dink terug aan daardie jaar, en sê dit was die slegste/beste jaar van my lewe. Ek is baie trots op daardie toneelstuk. ’n Mens is veronderstel om selfs onder die aakligste omstandighede kreatiewe werk te produseer.

Watter Suid-Arikaanse vroue in die kunste inspireer jou?

Tinarie van Wyk Loots is vanuit ’n toneelspel-oogpunt ’n groot inspirasie. Lara Bye, wat ek vroeër genoem het. Ek dink sy doen wonderlike werk, maar sy is ook vir my ’n groot inspirasie omdat dit vir haar belangrik is om haar vaardighede oor te dra. Sy wil graag dít wat sy al deur haar lewe geleer het, deel. Iemand soos Bianca Flanders raak my diep. Sy is ongeloolik talentvol en dis so maklik om saam met haar te werk, maar elke keer wat sy daardie ruimte betree, staan ek verstom oor hoe briljant sy is, al maak sy asof daardie briljantheid niks is nie. Dis vir my belangrik dat die mense saam met wie ek werk of skep ook gawe, omgee-mense is. Ek voel dat mense met slegte reputasies te dikwels in ons bedryf aanbid word, en ek is so moeg daarvoor. Daar is volgens my geen verskoning om nie ’n goeie, gawe mens te wees nie. Jy kan steeds briljant wees. Jy hoef nie ’n slegte reputasie te hê om ’n briljante kunstenaar te wees nie. Ek verloor natuurlik soms my humeur in die hitte van die stryd, maar ek doen my bes om ’n goeie voorbeeld te stel. Ek dink dis belangrik dat ons as kunstenaars na mekaar kyk, soos ’n gemeenskap. Kollegas met daardie sagtheid in hulle raak my altyd. Kyk na iemand soos Cintaine. Sy werk hard. Niks is te belangrik of te onbelangrik  nie. Sy is ’n ongeloolike kunstenaar en akteur. Sy is iemand wat sal bel en sê: “Kan ek jou help kostuums uitkies?” Ek was swanger toe ons ’n stuk saam gedoen het, en sy het net daar aangekom en op lere begin klim. Sy was ’n akteur en dit was nie haar werk om so iets te doen nie. Ek respekteer mense wat só tot iets verbind is. Koleka Putuma! Sy is nie net ’n wonderlike digter nie; sy het ook ’n ongelooflike energie as teatermaker.

Sarafina_Mari_Winterboom254
foto: Chris de Beer

Winterboom is tot 7 Oktober 2017 by Aardklop te sien. Kliek hier om kaartjies te bespreek.

’n Spesiale dankie aan Hannah Baker, Maria Vos, Jaco Nothnagel and Chris de Beer.

Afrikaans deur Maria Vos.

Alle foto’s is op 12 September 2017 deur Chris de Beer geneem.

Sarafina Magazine en Chris de Beer  behou die kopiereg op alle foto’s. Kontak ons met enige navrae in dié verband. 

Advertisement