
Teaterlegendes Janice Honeyman en Anna-Mart van der Merwe werk vanjaar weer saam, hierdie keer aan Florian Zeller se The Mother, wat verlede week by die Fugard-teater begin het. The Mother, waarvan me. Honeyman die regie behartig en waarin me. Van der Merwe die hoofrol speel, gaan oor Anne, ’n vrou wie se lewe buite beheer raak wanneer sy nie meer tussen die werklikheid en haar eie versinsels kan onderskei nie. The Mother volg op ’n geselskapstuk, The Father, wat verlede jaar aan die Fugard-teater vol gehoorsale besorg het.
Afrikaans deur Maria Vos.
Wie of wat het jou geïnspireer om in die kunste te werk?
Anna-Mart van der Merwe: Om eerlik te wees, dink ek dit het dalk te doen met hoe ek grootgeword het. Ek het op die platteland grootgeword en ek was die laatlam, so ek was eintlik maar ’n enigste kind. Ek het baie ure en dae alleen gespeel en gedagdroom en gefantaseer. Ek dink daardie verbeeldingsvlugte en storievertel en ander wêrelde het ’n plek geword waar ek gemaklik gevoel het, en waar ek nie bang was om in te gaan nie. My pa en ma was lief vir musiek. Ek dink al dié dinge het vir my ’n tipe landskap voorberei, maar ek het eers in matriek besluit om akteur te word, want ek wou ’n werk hê wat tot die samelewing kon bydra. Ek het gedink, oukei, ek wil in die kunste werk, maar ek het nie geskryf nie, ek het nie gesing nie; so toe dink ek toneelspeel is soos stories vertel, en dit kan waardevol wees. Ek is Stellenbosch Universiteit toe. Ek het twee jaar lank tale geswot, maar ek wou drama swot en ek kon nie inkom nie. Babs Laker van Die Akademie vir Dramakuns het op Stellenbosch klasse aangebied, en ek het dit in die geheim bygewoon. My pa het nie geweet nie. Ek sou sê dat dit Babs Laker was wat my uiteindelik die selfvertroue gegee het om toneel te speel, of my daarin geslinger het. En toe is ek Universiteit Kaapstad toe, waar ek drama gestudeer het.
Janice Honeyman: Ek het ’n baie interessante storie. Ek was in Milnerton Primary School en ons het geen spraak of drama gehad nie, en toe skielik, toe ek omtrent in Standerd 1 was, daag hierdie vrou met ’n groot blonde bolla by die skool op, en sy sou ons spraakonderwyser wees. Dié dame, Mev. Vos, was toe ook die drama-onderwyser en ons moes almal ’n spraakboek kry. Dit was vir my so onbelangrik dat ek altyd die boek se laaste bladsy sou uitskeur om daarop te skryf of teken en my eie ding te doen, maar jy weet, wanneer jy die laaste bladsy uit daardie skryfboeke skeur, kom die eerste bladsy los. Eendag kom Mev. Vos verby en tel my boek op, en terwyl sy dit optel, val die hele ding uitmekaar, en sê sy: “Kyk net hier! Soveel disrespek vir die kunste. As jy die kunste gerespekteer het, sou jy dít nie gedoen het nie; jy sou hierdie spraakboek opgepas het. Ek weier om jou verder te leer tensy jy op die kunste begin fokus!”. [Aan Anna-Mart:] Onthou jy dat Babs Laker se man Mnr. Vos was? Dit was Babs Laker! En Babs het vir my ’n absolute inspirasie geword. Sy het my geleer om die kunste te waardeer, en toe leer ek haar regtig ken toe ek op universiteit was. Sy het Hecuba gespeel in Vroue van Troje en ek was ’n trol of iets. Babs speel al reg van die begin af tot nou ’n rol in my lewe.
Anna-Mart van der Merwe: Wanneer was jy daarin? Ek het by die UK klaargemaak en toe ’n kontrak by die Windybrow-Teater in Hillbrow gekry, en die eerste produksie waarin ek was —sjoe, dis nou verbysterende toevalligheid— was Dieter Reible se weergawe van Vroue van Troje, en Babs Laker het Hecuba gespeel! Ek was nie ’n trol nie, maar wel in die koor.

Wat omtrent hierdie stuk [The Mother] het jou tot die produksie aangetrek?
Janice Honeyman: Dit is vir my aangebied. Ek het toe nog nie The Father gesien nie, maar ek het van die Afrikaanse weergawe, Die Pa, met Chris van Niekerk, gehoor, en ek het gehoor dit was ’n baie goeie toneelstuk en hy was baie goed daarin. Toe doen hulle The Father hier, maar ek was oorsee. Daniel het my gebel en gesê: “Ons het ’n stuk met die titel The Mother en ons dink ’n vrou moet die regie doen. Stel jy belang?”. Toe lees ek die stuk [en dink]: “O, hel, hier het ons nou ’n ding”. En toe het ek natuurlik net gewerk en gewerk en gewerk. Die eerste ding wat ek gedoen het nadat ek dit gelees het, was om vir Daniel te bel en te sê: “Daar’s net een mens wat hierdie rol kan speel, en dis Anna-Mart en ek wil dit nie sonder haar doen nie”. Daarna het ek navorsing gedoen en gelees tot ek die stuk regtig geken het en oral wonderlike raakpunte gevind het en dit regtig in my hele wese ingeprent geword het. Van al die ernstige stukke wat ek al gedoen het —en ek het al baie gedoen— is hierdie een van dié wat soos ’n gogga word wat jou heel infekteer.
Anna-Mart van der Merwe: Ek dink my reis is min of meer dieselfde. As akteur ken jy daardie onsekerheid of bekommernis elke keer wat ’n nuwe projek aankom, al is dit so ’n groot geskenk. Jy voel nooit soos ’n “regte”, volwasse akteur nie. Elke produksie is nuut en vars. Jy moet elke keer weer by nul begin. Of die regisseur manlik of vroulik is, hy of sy is die hoofstorieverteller, en ons reis saam met die toneelstuk. Ek vind wel met vroue, en veral met Janice, begin ’n mens jouself ken en die inhibisies herken wat jou daarvan weerhou om sekere dinge aan te pak waarmee jy sukkel of waarvoor jy bang is. Jy leer om jou instrument toe te laat om te spéél. Dit is ’n nimmereindigende stryd, maar ek weet dat Janice my al my lewe lank, as regisseur en as mens, van hoë plekke afstamp. Ek sê altyd sy skop my onder my gat. Sy vang ’n mens natuurlik altyd, maar dit is die proses. Vir ons almal wat aan hierdie stuk werk is dit nogal ’n uitmergelende reis wat nog nie verby is nie. Dit is die tipe stuk wat ons dag-vir-dag vat. Jy kan nie oor die hele speelvak dink nie. Ons sê vir mekaar: “Dis een lewe op ’n slag”. Op die vraag oor waarom ek die kans aangegryp het: Ek het geweet —en nie net oor die wonderlike geskenk van werk en die stuk self nie— dat ’n mens as kunstenaar soms die meesters moet laat inkom en jou moet laat leer. In Suid-Afrika kry ons as akteurs nie volwasse onderrig nie. Jy kry dit net deur te dóén. Wat wonderlik is, is as jy daardie regisseurs het wat sê: “Gaan verder! Gaan verder!”, sodat jy kan werk deur wat jou ook mag terughou.
Janice Honeyman: As regisseur weet ’n mens watter pad jy moet volg. Wanneer jy die stuk lees, weet jy dat dit ’n besonder moeilike reis gaan wees. Alles wat ek al saam met Anna-Mart gedoen het, is werk wat my uitgedaag het, ook Twaalfde Nag. Daarom is dit belangrik om te weet dat die mense met wie jy die stuk aanpak, ook hul neuse gaan toeknyp en inspring. Dit is wat Anna-Mart nog altyd doen. Ons het al so dikwels saamgewerk, en ek het omtrent nog agt stukke in my kop waarin ek haar wil gebruik, want ek het akteurs nodig wat dapper is en ek het akteurs nodig wat dink en ek het akteurs nodig wat voel. Anna-Mart doen al daardie dinge. Sy is só gereed om eerlik te wees en die rits af te trek en haarself oop te stel. Dit gaan daaroor om na binne te kyk. ’n Mens moet op ’n punt kom waar jy kan sê dat kwesbaarheid heel dikwels die eienskap is wat ’n optrede goed maak.

Ek het nou albei stukke gesien, en ek vind dat hierdie een ’n mens op ’n ander manier tref. In The Father sien ’n mens die karakter se trajek, en hy word progressief sieker soos die toneelstuk vorder. The Mother hou van die begin af nie terug nie. Moes jul benadering verander weens die manier waarop die toneelstuk gestruktureer is?
Anna-Mart van der Merwe: Op watter manier “verander”?
Ek bedoel hoe jy die materiaal benader. Sover ek kan aflei sonder dat ek die teks gelees het, moet dit moeilik wees om die reis se ruggraat te vind.
Anna-Mart van der Merwe: Ja, ons moes maar verstaan en respekteer dat Zeller se skryfstyl verwarrend sou wees, nes dit verwarrend is wanneer ons sê: “Dis oukei,” want dit is wat hy sê. Die lewe is verwarrend. Mense is verwarrend. Ons sê: “Jy is veronderstel om my ma te wees. Waarom tree jy so op? Dit verwar my. Dit laat my ongerus.” Vir haar is daar egter ’n logika, al is dit net emosioneel en onverklaarbaar. As dit emosioneel is, is dit waarskynlik nie ’n kognitiewe logika nie, maar ’n emosionele logika. Ons moet almal daardeur werk sodat ons weet presies waar en wát die kolletjies is, en hoe hulle vir Anne verbind word, en indien hulle nie verbind word nie, om te weet dat dít die oomblik is en dat daar geen verbintenis is nie. Ja, ons moes regtig hard werk, want in die begin het ons gewonder wat die eerste toneel is. Dis nie asof jy begin en dan daarop bou nie. Ons probeer uiteinlik Zeller se musiek hoor.
Janice Honeyman: En dit is interessant, want met hierdie toneelstuk kan jy nie daardie ou tegnieke gebruik nie. As regisseur is een van my groot “dinge” om die stuk te orkestreer sodat dit begin, en bou, en daal, en ek probeer dit van die akteurs kry deur notas en deur vrae en deur te besluit hoe ons die stel opslaan. Met hierdie een begin jy, en alles waardéúr ons moet werk word omgekeer omdat die eerste toneel reeds so gefokus is, en dit maak hulle bang. Die eerste keer wat hulle dit sonder tekste gedoen het, het ek na Birrie [le Roux] gekyk en haar mond was oop, en toe besef ek myne is ook oop. Die verstommende emosionele lading in die eerste toneel stel dit op sodat dit van daardie punt af nie saak maak of die toneel verfyn word en in die tweede toneel amper soos ’n sitkamerkomedie gespeel word nie; ons het reeds die skeermeslemme gesien wat rondswaai. Soos hulle die woorde sê wat ons reeds gehoor het, assosieer ons dit met wat reeds gesê is maar nie nou in die toneel gesê word nie. Dis ’n blik op iemand wat heelwat tyd alleen deurbring, met anti-depressante en alkohol en eensaamheid en wanhoop en verlies en rou en al daardie dinge, en dit is wat ons in die hele stuk moet inbou. Tussen elke toneel sien ons Anna-Mart se gesig en haar wat in die donker rondloop en elke keer dieselfde goed doen. Sy was die moeder, die vashouer, die draer, en nou het sy nodig om gedra te word, maar niemand dra haar nie. Wanneer die eerste toneel jou versteur, kan jy as gehoorlid nie daarna weer ongestoord wees nie. Jy moet aanhou met die reis waarop ons vertrek. Dit was ’n wonderlike openingsaand, maar dit was ook baie vreemd. Mense het ná die tyd daar gestaan sonder om na my te kyk. Een vrou het, verskoon my taalgebruik, gesê: “Wat de fok dink jy doen jy aan ons? Hoekom het jy dit gedoen? Ons het nie nodig gehad om dit alles te sien nie.” Jy het, weet jy. Het jy enigiets daaraan herken? “Ja, ons het dit alles herken!” Toe sê ek: “Presies”. Dit is wat Zeller doen. Hy is verbysterend.

Anna-Mart van der Merwe: Zeller het hierdie stuk geskryf voor hy The Father geskryf het. Buiten die ding wat hy gesê het oor hoe ’n mens maklik ’n simpatieke invalshoek kry met ’n persoon met Alzheimer’s omdat dit so verskriklik is om te sien hoe dit gebeur en hoe ongeduldig die familie met die lyer se reis of ervaring is, vind ek ook dat hy daar meer logies en presies was, terwyl ek met hierdie stuk gedink het: “Waarom is dit so ontstellend?”. Ek het besef dat Zeller sê dat daar ’n gevaarlike emosionele wêreld is wat ons nie wil erken nie. Met ’n fisieke siekte is jy ongemaklik en word jy daardeur ontstel, en dan kan jy ’n pil drink of ’n operasie laat doen of iets, en dan word dit hopelik binne ’n paar maande opgelos en sal jou probleem weggaan. Ons vind dikwels met emosies, selfs al sukkel jy nie met ’n geestesaandoening nie, dat ons almal die krag en die intensiteit van emosies ken, en jy kan hulle soms nie “ophou voel” nie.
Janice Honeyman: Daar is niemand in die wye wêreld wat nie uit ’n ma ontstaan het nie. Daar is ’n bloedverbintenis en ja, daar is ’n naelstring wat geknip word, maar daar is ’n draad wat jou aan jou ma bind wat een van die kosbaarste verhoudings is om van deel te wees, en ook een van die moeilikste verhoudings. Elke enkele ma moet haar kind weggee, en dit is ’n baie moeilike ding. Soos Anna-Mart sê, is Alzheimer’s ’n verskriklike ding. Dit gebeur en daar gaan ’n sterfte wees, maar jy kan jou daarop voorberei. Om die een of ander rede is die woorde wat mense die meeste vir vroue met depressie sê: “Ag, komaan, ruk jou reg”. Die pa sê dit ook in die stuk. Dit is natuurlik ’n baie onsimpatieke mediese toestand, dink ek. Toe ek die eerste keer die toneelstuk lees, het ek gedink: “Hel, hierdie vrou irriteer my”. Nee, Janice. En dit was net met die heel eerste lees, en toe ek aan die einde kom, het ek so ’n rouheid hier binne begin voel wat nog nie sedertdien weggegaan het nie. Daar is reëls in hierdie toneelstuk wat sirenes laat afgaan soos hulle uitgespreek word. Jy dink: “O, ek ken dit. My ma het dit vir my gesê.” Een reël in die laaste toneel is om die waarheid te sê die laaste ding wat my ma ooit gesê het: “Ek wil huis toe gaan. Kom ons gaan huis toe.” En Zeller vang dit net vas. Dit is in die toneelstuk. Ek dink dit gebeur met enigiemand wat al met hul ma deur daardie soort situasie is.
Anna-Mart van der Merwe: Ek stem daarmee saam. Ons sien ons ma’s of die konsep “ma” as ’n geheel, [soos] die Moeder Maria, die argetiepe moeder: die versorgende, liewe, pragtige mense wat altyd daar is, soos ’n rots. Jy vergeet dat sy ’n mens is, soos ons almal. Vanaf die oomblik wat jy ma word, kan jy nie omdraai nie. Jy sal jou lewe vir die kind gee. Dit gaan nie weg nie, tot jy self doodgaan. Maar jy kan nie ophou om daardie méns te wees nie. Jy is steeds daardie meisie wat 20 jaar vantevore of so gebore is, met al die vrese en persoonlikheidsprobleme en so aan. Ek dink vroue se reaksie, en die skande waarvan hulle praat, is daardie gevoel dat jy ’n ma moet wees, “maar fok”. En dit is deel van die skande waarmee hulle worstel, die ma se geheime lewe, daardie gevoel dat jy nie bevoeg is nie. Zeller is besig om wonderlike gesprekke te inspireer wat vroue in die voorportaal met my voer oor vrouwees en hul ma-wees.

Janice Honeyman: Gisteraand was ons opening, en sulke aande is gewoonlik maar aangeplak en “O, liefling, wonderlike show”. My skoonsus het vir my gesê: “Jan, ek is totaal geskok en ek kan nie met jou praat nie. Ek kan nie praat nie. Dit het my oral geraak, want ek is ’n ma en ek het ’n ma.” Maar dit is dan wat met hierdie stuk gebeur. Post-menopausale-leë-nes-sindroom: Vroue gee nie hul wêreld weg nie; dit word deur die samelewing van jou weggeneem. Dit bind jou die eerste helfte van jou loopbaan as ma vas, en dan word die kettings afgebreek en word jy in ’n aaklige soort woestyn agtergelaat met niemand wat jou kom voer nie omdat almal te besig is met hul eie lewe. As jy die ma so ernstig opneem soos Anne haar in hierdie toneelstuk opneem, word jy met niks gelaat nie. Sy word heel leeg gelaat.
Anna-Mart van der Merwe: Dit is interessant. Uit die navorsing wat ek gedoen het, sien ’n mens dat leë-nes-sindroom onafwendbaar met hormonale veranderinge saamval, wat depressie meebring.
Janice Honeyman: Daar’s ’n oortolligheidsfaktor wat vir vroue skrikwekkend is, veral as hulle hul heel [tot moederskap] verbind het. Jou hormone is skielik weg, jou seksuele aantreklikheid is weg, jou libido is weg, jou aantreklikheid is weg, jou vrouwees is weg, en jou kinders is weg. En jou man loop ook gewoonlik weg. Waarmee bly jy oor?

[Aan Janice:] Ek dink iets wat ek baie spesiaal gevind het omtrent die openingsaand was dat ek reg voor jou gesit het. So verdiep soos ek in die toneelstuk was, sou ek steeds hoor hoe jy by tye lag of ’n ander reaksie toon. Jy werk nou al so lank daaraan en het dit al gesien, en dit is nogal wonderlik om te sien hoe jy steeds diepgewortelde reaksies ondervind tot wat op die verhoog gebeur.
Janice Honeyman: Dis omdat ek regtig baie lief is vir akteurs, en wanneer hulle dit reg doen en goed doen, raak dit my. Hierdie stuk begin ook weer en weer. As hulle daaraan dink as ’n speelvak en nie sekonde-vir-sekonde met die onmiddellikheid daarvan worstel nie, gaan dit nie op dieselfde manier werk nie. Dit sou werk, maar mense sou dalk ’n bietjie ongeduldig raak. Dit moet so opeenvolgend wees soos dit tydens die proses sou wees.
Ek wou graag oor jul individuele projekte gesels. Anna-Mart, ek het verlede jaar The Painted Rocks gesien. Wat het jou laat besluit om terug te kom en weer by die Fugard te werk?
Anna-Mart van der Merwe: Ek dink eerstens omdat dit soos ’n regte teater voel: die gebou, die mense, die manier waarop hulle dinge doen, ens. Die Fugard is ’n wonderlike plek om te werk, en dit kom van die topbestuur af, deur dit wat hulle skep. Jy het ’n behoorlike repetisietyd en speelvak, maar vir my gaan dit dikwels oor meer as net die plek of tyd; dit gaan oor die storie en die mense. Die verbintenis, soos ek m.b.t. die stuk en Janice genoem het, maar daarmee saam die feit dat dit die Fugard is. As akteur is dit regtig vir my so ’n wonderlike ruimte om in te werk.
Janice Honeyman: Dit word totaal ondersteun. Daar is ’n span wat nie egoïsties is nie. Hulle is daar vir die teater en vir die oorlewing van daardie teater, en vir die oorlewing van teater op sigself. Ek dink Eric Abraham het aan Kaapstad ’n verstommende geskenk gegee. Het het vir homself ’n plekke in die teaterhemel uitgekerf omdat hy sekergemaak het dat die plek eersteklas bly en dat die atmosfeer behou word. Dit is ’n geskenk aan Kaapstad en ons behoort baie dankbaar te wees. Dit is regtig ’n plesier.

En vir jou, Janice: Ek onthou dat ek as kind jou produksie van The Tempest gesien het en dat dit my hele verstaan van Shakespeare verander het. Ek weet dat baie kinders se eerste teaterondervinding een van jou pantomimes insluit. Bestaan daar vir jou enige druk in terme van wat jy volgende aanpak omdat jy al soveel jongmense beïnvloed het en jou eie stempel op die Suid-Afrikaanse teaterlandskap afgedruk het?
Janice Honeyman: Daar is altyd druk. En hierdie stuk gaan oor die tyd wat afloop en die tyd wat kyk hoe die wêreld aanhou draai. Dit is vir my baie belangrik om sulke stukke te doen. Ek gaan nog pantomimes doen, en ook The Color Purple waarna ek regtig baie uitsien. Dit is ’n boek wat nog altyd baie na aan my hart was, en ons het na my mening daarin geslaag om ’n fantastiese, jong, vars geselskap bymekaar te bring. Ek sien baie daarna uit om dit volgende jaar hierdie tyd te laat gebeur. Ek gaan direk hierna Engeland toe om ’n produksie te doen. Dit is iets wat effens ander is. ’n Wilde Romeinse baljaardery, skunnig en ongeskik, en my komponis stuur aanhoudend vir my nuwe liedjies en hulle is almal stuitig en ons doen dit met tubas en doedelsakke en simbale. Dit is a lieflike, fantastiese stuk en ek gebruik ook heelwat van my pantomime-ondervinding op ’n volwasse manier in ’n RSC-produksie. Dis nie jou gewone RSC-produksie nie… Ek gaan myself ook dwing, en dis nie ’n slegte ding nie, om die baie kinderboeke wat ek al geskryf het, te illustreer en op ’n manier gepubliseer te kry. Ek wil regtig graag ’n bietjie tyd afvat van die regie en dit aan illustrasie wy.
Het julle iets op jul onderskeie professionele emmerskoplysies wat julle nog wil doen?
Anna-Mart van der Merwe: Ek sê altyd ’n storie soek na ’n verteller, so ek bly oop. Nee, ek kan nie sê dat ek al gedink het “Ek wil nog daardie rol speel” nie. Ek is dalk bang ’n mens beheks dit half. Ek voel asof ek oop is, en hoe ouer ek word, hoe meer besef ek die somtotaal van jou lewe is heelwat meer as net die werk wat jy doen. Daar is ander dele wat jy moet ontdek, en die tyd staan nie stil nie. Nee, ek kan nie sê dat daar iets is wat ek wil doen nie. Ek dink net hierdie lewe is verbysterend en ek sal aanhou loop en sien wat om die volgende hoek is.
Janice Honeyman: Ek wil sê ek het nog ’n paar geheime begeertes. Ek vind dit net vreemd dat, ná alles wat ek al in my loopbaan gedoen het, ek nog nooit Die Towerfluit of A Midsummer Night’s Dream gedoen het nie. Dit is die twee stukke wat ek absoluut weet binne my is. Daardie twee is op die wenslysie, maar verder wil ek eintlik net snorkel. Ek wil om die wêreld gaan en nooit aan ’n vasteland raak nie; ek wil net van eiland tot eiland gaan met my kop in die water. Dit is wat ek graag wil doen.

Wat is die beste raad wat jy al ontvang het?
Janice Honeyman: Doen net dít wat jy regtig wil doen. As jy iets doen wat jy nie wil doen nie, is jou hart nie daarin nie, so jy moet regtig bereid wees om dit te doen. Jy doen dit met hartstog en liefde en toewyding en beheptheid. Doen net wat jy regtig wil doen. Die kere wat ek iets gedoen het wat ek nie regtig wou doen nie, het ek op grootskaal drooggemaak. Jy moet lief wees vir wat jy doen.
Anna-Mart van der Merwe: Twee dinge. Die een is iets wat Athol Fugard een keer in ’n repetisie gesê het: “Nee man, ’n goeie vertolking kom nie vanwee ’n liesbreuk nie”. Ek het gedink dis nogal snaaks.
Janice Honeyman: Ja.
Anna-Mart van der Merwe: Maar iemand het ook vir my gesê: “Moet nooit vir enigiemand in jou lewe bang wees nie.” Wanneer ek sê “bang wees” dink ek dit beteken dat ons dikwels iewers saam met iemand beland waar ons vir die situasie of die persoon bang is, maar ’n mens moet probeer om dit nooit te doen nie. Haal diep asem en ontspan. Wéés net.
Janice Honeyman: Want jy gaan bang wees vir jou reaksie wat beïnvloed word. Ma pa het altyd vir my gesê —hy het altyd met “Wel, Jan” begin— “Wel, Jan, waarom bekommer jy jou so oor dinge? Waarom sweet jy soos ’n os en word jy rooi in die gesig?” Dit gebeur steeds elke opening met my. Hy sê: “Dit steel net jou energie.” Dit is waar: vrees is tydmors.
Anna-Mart van der Merwe: En ek dink die ding is, as dit oor jou pad kom, moet jy probeer om net dwarsdeur te stap. Ek word dalk ’n bietjie deur die vrees gebrandmerk, maar ek moet net deurstap.
Is daar Suid-Afrikaanse vroue in die kunste wat julle inspireer?
Janice Honeyman: Anna-Mart van der Merwe.
Anna-Mart van der Merwe: Janice Honeyman!
Wonderlik, dan is ons klaar!
Anna-Mart van der Merwe: As ek net aan akteurs dink, is daar mense wat daar is wanneer jy begin —en dit is wat ek mis van in geselskappe wees, daar is soveel jong akteurs waarvan ek sê: “Ek is mal oor die jong generasie en wat hulle nou doen”. Ek hou van die Mechanicals en Tinarie van Wyk-Loots en ook jong manlike akteurs in die Afrikaanse en Engelse wêrelde. Dit is net buitengewoon hoe kinders deesdae sing en dans. Wat ek onthou van deel wees van ’n geselskap, is dat jy met lede van verskeie generasies werk en dat jy aan die voete van ’n Marius Weyers, ’n Sandra Prinsloo, ’n Louis van Niekerk, Antoinette Kellerman, Babs Laker, Graham Hopkins, Michael Richard, Robert Whitehead en Fiona Ramsey kon leer. Daardie liefde vir die akteurs, dat ons kan grootword en hul werk kan sien, ek dink dit is m.b.t. toneelspeel nogal buitengewoon.
Janice Honeyman: Daar is briljante vrou in die kunste in Suid-Afrika, van dié wat die kunste beoefen tot dié wat die kunste organiseer. Daar is ’n hele span vroueregisseurs wat ek nog altyd bewonder. Ilse van Hemert is so iemand. Ook Lucille Gillwald, en hulle leer jou soveel, maar dit is ook waar van Athol Fugard, en Barney Simon. Die wonderlike ding van die teaterbedryf, en miskien is dit nie waar as ’n mens van die ouderdom praat nie, maar dis nie seksisties nie. Ek het nog nooit in die bedryf gesukkel omdat ek ’n vrou is nie. Almal het my nog altyd gehelp soos ek dit nodig gehad het, en met soveel vrygewigheid as wat ek nodig gehad het. Dit is die wonderlike ding. Die teater kan ook meestal nie-ouderdomsdiskriminerend wees, en jy kan vriende wees met ’n jonger persoon en met ’n sewentigjarige aktrise wat die hoofrol speel, en ons gesels met mekaar, eet saam, lag saam, en dit is so lieflik dat dit kan gebeur. Ons het twee lieflike jongmense [in The Mother] wie se bydrae ek waardeer; ek waardeer dit wat hulle tot my bydra, en goed wat ek nie verstaan nie.

The Mother is tot 4 Maart 2017 by die Fugard-Teater te sien. Kliek hier vir kaartjies en meer inligting.
Afrikaans deur Maria Vos.
Met groot waardering aan me. Honeyman en me. van der Merwe.
’n Spesiale dankie aan Maria Vos, Jesse Kramer, Hannah Baker, Georgia Lahusen en Christine Skinner.
Alle produksiefoto’s deur Daniel Rutland Manners en met toestemming gebruik.
Alle swart-wit-foto’s is op 10 Februarie 2017 deur Jesse Kramer in die Fugard-Teater-anneks geneem.
Die kopiereg vir al die foto’s behoort aan Sarafina Magazine en Jesse Kramer. Vir navrae of gebruik, kontak ons asseblief.